Dis my boodskap by die werk vandag!
Peet stap stadig aan, Molly kyk hom mooi uit. “Wees net versigtig Peet, daar is wind vandag” Peet stap verder weg van die glas af, meer so na die rand se kant toe, maar nie teenaan nie. Hy wil ook nie bang voorkom nie, maar dit is nogal ‘n hele ent ondertoe en Molly is reg, daai wind is sterk vandag. Snaaks ma hulle gesê dit is vreemd die skielike koue wind en die donker wolke. Blykbaar nie iets wat mens hier sien nie. Peet weet, want hy het al ‘n paar keer gehoor hoe ma vir pa sê sy mis die Kaap so met daai grys weer. Pa skud net sy kop en sê mens kan sien ma kom uit die ou Transvaal uit oorspronklik want niemand hou van daai koue grys weer nie.
Peet kyk om na Molly toe en sê “Dis okay Molly, die wind voel mens net so teen daai rand, bly teen die venster se kant dan is dit beter”. Molly staan regop, haar beentjies bewe en sy weet Peet sal haar terg, so sy maak of sy baie braaf is. Sy staan so op die rand en net so tjoef, toe is sy op die vensterbank. Sy sien een van die twee mense wat hier bly kyk vir hulle en het weer die “oooo-aaaa blokkie” in die hand. Sy stap stadig nader aan Peet. Sy kan die wind voel, maar dit is heerlik om haar beentjies so te kan strek. Ooooooo, en haar veertjies kan sy so lekker kam nou. Sy stap nader en Peet staan stil so in die hoekie dat sy kan afkyk, maar nie alleen voel nie, hy is die oudste en moet na haar kyk.
Hulle twee sit nog so toe land Miena sommer hier by hulle. Sy glimlag breed en is so trots op haar kinders. Peet kyk so mooi na sy sussie. Miena weet sy is nog bietjie bang, maar sy probeer haar braaf hou. Sy glimlag toe Albert hier by hulle kom sit. Haar krop swel van die trots oor hulle gesin. Dit is nie maklik om jou gesin in ‘n vreemde land groot te maak nie. Die kultuur is anders, die dinge wat gedoen word is anders, tale en weer. Dis nie verkeerd nie, dis net anders en dit is partykeer moeilik om anders te dink as wat jy groot geword het. Sy verlang na haar mense, na haar taal en na dinge wat sy ken. Sy wens so haar ma kon die kinder sien so klein. Maar sy is bly sy kon oor “Blue- Beak” vir hulle darem ‘n kiekie of 6 stuur van hulle, dis nie dieselfde nie, maar dis darem iets. En dit help met die verlange…
Sy kyk weer op na die donker wolke en voel so benoudheid in haar oor die wind. Sy weet die kinders is byna reg, sy wil hulle nie bang maak nie, maar sy wil ook nie hê een moet afwaai oor die frats wind nie. Albert voel dadelik haar benoudheid aan en spring saam met haar op die ou nes. Hy druk sy koppie so teen hare “Miena, hulle is reg groot gemaak, jy en ek het hulle alles gegee wat hulle nodig het en ek weet dit is baie senutergend om te dink hulle moet uit die nes uit en begin vlieg. Ons bid en ons moet vertrou hulle gaan okay wees. Jy is so ‘n pragtige ma, glo dinge gaan reg loop”. Sy vryf haar koppie so teen hom en fluister sag “dankie Albert, verbaas my nog altyd dat jy so baie van my kan voel en verstaan sonder dat ek ‘n woord sê”. Hy glimlag “van die eerste dag af toe ek jou gesien het”.
Peet stamp Molly so aan die vlerk en wys na hulle ouers toe. Sy glimlag en voel so gelukkig. Hoe wonderlik is dit nie dat hulle hele gesin hier bymenkaar is nie. Sy gaan sorg dat sy eendag net so is soos haar ma.
Miena kyk na die kinders en glimlag. “Dit is al amper vliegtyd vir julle, maar ek dink ons moet eerder wag dat hierdie wind gaan lê. More is ook nog ‘n dag en dit gee ons nog ‘n dag om julle kroppies vol te stoot met al die kos sodat julle sterk en gesond is”. Albert glimlag, hy gee so waai met sy vlerk en duik af na onder om kos te kry. Miena kyk weer na hulle “Peet, ek is netnou terug en pa ook. Dalk kan julle twee bietjie in die nes sit en energie spaar tot ons terug is met julle kos”. Miena duik af ondertoe. Peet kyk na sy sussie “Kom Molly, nes toe met jou, jy bewe soos ‘n riet nou van die wind. Kom sit dat ek jou kan warm broei tot ma hulle terug is”
(Blue -beak =compliments van Padda af)
Hulle het veels te vinnig groot geword, VirgoC! Wat ń pragtige skrywe oor die familietjie se doen en late…Ek het lekker oor jou gespog by taAn se negentigste vandag.🌷
LikeLiked by 1 person
Ai ousus, dit was seker ‘n lekker kuier daar, yoh, goeie mylpaal daai 90,x
LikeLike
Ai, ek hou saam met julle my hart vas…
LikeLiked by 1 person
Ai so oulik geskryf…tog jammer die goedjies moet die nes verlaat.
LikeLiked by 1 person
Awwww!! Dis so sweet!
LikeLiked by 1 person