Lank, lank terug…

Ek het nou lekker gelag, Padda sit en luister na ou musiek en ek raak so besig met goed en op een of ander stadium kom ek op die prentjies af.

Ek was klein en was mal oor John Wayne, kyk my grootste probleem in my lewe was wil ek John Wayne word of Tarzan. Die Tarzan fantasie het so effens verdwyn nadat my boetie my “gedare” het om soos hy te swaai in ‘n boom met ‘n ou fanbelt wat ek om ‘n tak vasgemaak het. 10 Voet in die boom en daar gaan ek- wel en en die fanbelt het so gelyk die aarde getref en dit was my eerste van baie frakture gewees.

So sit ek lekker en smile en begin dink aan dinge van daai tyd. Ek was ‘n baie strange kind, seker strange groot mens ook. Stel dit so, ek is die rede dat ek nie wil kinders gehad het nie want as ek so kind moes hê, was ek sekerlik in die tronk. Ek het geweet van mense se geduld beproef, was ongelooflik besig. Ander storie vir ‘n ander dag.

Buiten besig wees, was ek mal oor lees. Ek kon nooit glo dat met my verjaarsdag, mense altyd geweet het wat ek wou hê nie, dit was ongelooflik. Ek was Knikkie (Noddy) mal, het al wat boek is gehad en gelees, in Afrikaans en Engels. En toe ek groter word, toe lees ek vir Saartjie raak. Wel, my lewe was volmaak.

En toe ek nog groter word, toe ontdek ek daai swart en wit boekies; “duiwelbybels” soos almal daai tyd na hulle verwys het. Kyk, die hel het vir jou gehaal as ‘n grootmens jou met so ding gesien het. My lewe was weer volmaak. Ek het saam met Ruiter in Swart gedroom en gespeel, perd gery op die muur, op enige ding wat moontlik soos perd se rug gelyk het, ek het rewolwers gehad en geleer om te “draw” soos hy met daai 6 shooter. En toe is dit Kid Colt.

Ek toe kom Arend, Prins van die oerwoud. Oooo my hel, dit was omtrent ‘n storie. Ek kan nie verduidelik hoeveel pak-slaes ek gehad het oor hom nie. Hy het mos so langggggg mes gehad en altyd op een of ander manier so weird spies effek, skerp punt een kant en ander kant soos swaard gesny. Dan is dit ek en my neef Attie en ons sny riete en maak wapens. My ma het daai riete mooi stukkend geslaan op ons boude want van jaag mekaar om die huis met ‘n skerp riet het ons glad nie geweet nie. As ek nou daaraan dink wil ek sommer naar raak. Ek het tot so masker gehad soos syne, self gemaak van papier of karton en daar gaat ek. Die dinge wat ons besig gehou het daai tyd was seker so erg soos wat ons aan vandag se dinge dink. Elke tydperk het maar sy dinge.

Dit was ‘n heerlike “onthou” trip die. Wat het julle gelees kleintyd?

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

17 thoughts on “Lank, lank terug…”

  1. Ja! Noddy en Saartjie – dit was nog die eerste uitgawes sonder mooi voorblaaie. Ook Trompie, die Maasdorp- en Keurboslaanreeks. ‘n Hoogtepunt was Brolloks en Bittergal. Ek mag glad nie daardie lekker fotoboekies gelees het nie, maar comics soos Archie en Little Lotta was aanvaarbaar.

    Liked by 2 people

  2. Jy het my nou aan die glimlag. Ek het al die boeke gelees wat jy opnoem. Dan was daar ook die Skatkis reeks wat my ure besig gehou het. Nathan en Talisa is albei op die oomblik besig met die Saartjie en Trompie omnibus reekse. Dankie tog ons het die twee oudstes klaar aan die lees!!!

    Liked by 1 person

  3. Lekker onthou die, ek het ook al die reeks gelees, Saartjie, Trompie, Jasper, Maasdorp, Keurboslaan. Die prentjie-stories kon ek net lees wanneer ons by die niggies gaan kuier het, ek dink nie ons het geld gehad sodat ek dit self kon koop nie

    Liked by 1 person

  4. Dit was nou sowaar lekker onthou 😊 Die kinders het daardie jare nog gespeel… en woes gespeel; arms breek en ander beserings was aan die orde van die dag. 😀😀😀😀

    Liked by 1 person

    1. Ek stem Kameel, ek dink dis so sad dat hulle nooit die goed gaan weet nie. Ek is eintlik baie jammer vir ouers vandag, moeilike plek om te wees. Perk jy al die elektroniese goed is jou kind agter, perk jy fisiese goed, is dit hulle lang termyn gesondheid, baie fyn lyn daai om te loop. Ek is net bly ek moes worry oor genoeg mango’s eet om “poppe” te maak, kam die hare en teken gesiggies op. Kyk, dit was omtrent rede vir oorlog as iemand jou mango pit gevat het:):)

      Like

      1. Hoe vat jy my nou terug na die mango pop toe 😀😀😀 Op die plaas is die skaap se stertbeentjies gebruik as osse vir ‘n saamgeflertse ossewa gemaak uit stokkies ens. As jy baie grênd was het die swartseuns – wat net so ‘n leer velletjie gedra het – vir jou kleiosse gemaak. Ek voel ook jammer vir die kinders van vandag…. hulle mis groot uit.

        Liked by 2 people

  5. Onthou tye is altyd lekker. Ek het Boet en Sus gelees, maar na ‘94 het hul dit verander. Toe neem ek maar boeke by die bib uit. 😜 My kinders is knikkie mal. 😄

    Liked by 1 person

  6. Al daardie goed gelees. Met ‘n verligte ma en pa, kon ons fotoverhale lees soveel soos ons wou. My ouers het nooit die duiwel agter iets gesoek nie en dit was heerlik. Ons het vrye keuses gehad om te lees wat ons wou en beslis niks oorgekom nie. Vandag is dit natuurlik ‘n ander storie met al die vieslikhede op internet.

    Liked by 1 person

    1. Is waar, Internet is nogal ‘n taai toffie vir my, dit het ligjare oopgemaak oor goed vir research ens, goed om te leer, soveel goed daarin. Dit het ongelukkig ook dieselfde gedoen vir baie donkere dinge. Voel is weer twee kant van dieselfde coin

      Liked by 1 person

Comments are closed.

%d bloggers like this: