Home… it’s a feeling

Ek ontmoet- seker weird woord om te sê oor familie- familie van my wat ek nog nooit gesien het nie, of weet ek gesien het nie. Die tannie is in haar 80’s. Kyk, sy is wraggies besig en op die ball. Eintlik aangetroude familie van my sover ek weet. Ons word deur my bloed niggie voorgestel en die tannie sê “so jy is Eileen se dogter”. Ek ja en gesels saam, Padda smile en luister net. Die tannie het 3 dogters, almal ouer as ek en dit is omtrent voorstel en wat ook al.

Die tannie sê “jy lyk soos jou pa”, ek smile so en dink terug hoe bly ek sou wees baie  jare terug as iemand dit sê. Ek wou net soos my pa lyk, ek en my ma het vir baie jare nie baie van mekaar gehou nie. Kyk, ek was en is my pa se kind deur en deur met sekere goed. Ek hou vir my eenkant, as ek vir jou nie ken nie, dan moet ek jou eers toelaat. My boetie, daar is hy my ma se kind. Hy praat met almal, groot, oud, jonk, kwaai, jy noem dit. Ek kry daai tipiese Koot Steenkamp frons, (my ma gepraat van daai nommer 11 op jou voorkop) en ek hou my persoonlike ruimte toe.

En ek het vandag nog daai look. As ek nie ‘n ding wil nie, dan wil ek nie en die wêreld weet dit.

Terug by vandag, dit raak later omtrent ‘n familie uitlê en die en daai en tot my skaamte ken ek van die name nie, maar almal praat. Maak seker sin in mate, soos ek sê dis aangetroude familie. Kyk, in ons huis as daai klomp familie kom kuier en hulle begin uitlê dan staan jy bont. My ma hulle was 7 kinders, my pa hulle was 4. Ek ken vandag nie almal van hulle se kinders se kinders nie. Maak ook seker sin, ek is al 17 jaar weg uit SA uit. Ek het die week met Una en my boetie gepraat toe hy oppad is hospitaal toe en hoor toe van hulle familie verjaarsdag van een van my pa se tannies.

Dit was so lekker om te praat en te hoor van almal, en so sad; want daar was so verlang in my na my huis en my land en my mense en my taal. Daai verlange wat soos vrees in jou inkruip. Dit sypel so in tussen jou klere en jou vel hier oor jou hart en longe en dan trek dit stadig in jou in totdat dit vir jou voel daar is nou soveel van iets om jou gedraai dat jy skaars jou borskas kan voel beweeg.  Dit pyn omtrent. Jy wonder hoekom jy nog so vêr is, hoekom jy dit nog doen; of alles die moeite werd is, of dit regtig so moeilik sal wees om net terug te gaan. Jy weet wat jy wil hê en weet is nie meer so lank nie, maar dis met sulke tye soms dat jy net wil opgee en terug na dit wat jy ken en wat jy is.

Want “make no mistake”, dit kan veilig wees en modern en al daai dinge- maar die, die is nie jou land nie.

Vreemder is om terug te gaan met vakansies en dit wat jy binne jou onthou is nie meer so nie. Dinge verander, lande, dorpe, mense, families. Ek verwonder my soms aan hoe ons minds en harte werk. Mens onthou goeie dinge, dis asof die sleg net skielik eendag nie meer daar is nie; of so “sag” is, of so ver verwyder dat jy dit amper nie meer kan onthou nie. Ek besef hoe ongelooflik die mens regtig gemaak is, hoe jy survive en aanhou en hoe jou kop en jou lyf weet hoe om te oorleef en goed te wees vir jou siel- ons leer so cope op maniere, is eintlik wonderlik. Nie alle maniere voel so wonderlik nie, maar dit werk.

Home… it’s a feeling – skielik maak die advertensie teken vir my sin en ek besef in ‘n mate is dit so ongelooflik waar.

 

 

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

12 thoughts on “Home… it’s a feeling”

  1. Jy het nou ‘n klomp mondevol gesê.
    Jy het my op ‘n klomp maniere aangeraak.
    Weet jy, ek was ook my pa se kind en lyk na hom, en het baie gehaak met my ma. Ons was altyd lief vir mekaar, maar die vuurwerke! En vandag is sy oud en weerloos en swak en die Here het dit reggekry dat ons besonder goed oor die weg kom ná al die slegte jare en as ons nou bymekaar kom, is dit goed. Hoe, weet ek nie, maar op die ou end het dit toe tog gewerk. 😁
    Jy beskryf die verlange soos ek nog nooit iemand dit hoor beskryf het nie en jy beskryf die so waar, so presies. Ek het ook so ‘n verlange in my hart na’n iemand. Dalk kom dit nog reg.
    Ja, SA het verander. Ons het verander. Ons wat hier bly het verander saam met die land, en julle wat weg is, moes ook verander om daar aan te pas. Om terug te kom? Elke ou moet maar self daaroor dink. Hier is nog baie mooi in ons land, maar dis nie aldag maklik nie. 😁

    Liked by 2 people

    1. Dankie Toortsie, so waar wat jy sê. Daar is vir my geen twyfel om terug te kom nie, het my lank gevat om tot daai besef te kom, dis my huis en my gevoel daai. En dit gaan omtrent ‘n aanpassing wees, of mens wil weet of nie, sekere dinge bederf jou tog.Ek en my ma was later jare baie naby aan mekaar, ek was baie blessed en besef dit elke dag meer en meer. Oor verlange in jou hart na iemand, dis ‘n moeilike een, ek het geen raad nie. Ek glo net regtig binne my dat dinge werklik gebeur soos dit moet en “if meant to be” sal niks en niemand dit stop nie. Dalk te veel van ‘n dromer met sekere goed, maar dit werk vir my:) Dankie vir die mooi skrywe.

      Liked by 1 person

      1. So jy oorweeg dit om regtig terug te kom, nie net kom kuier nie? Mag dit vir jou goed wees. Mag julle regtig gelukkig wees hier. Mag julle weer aanpas by die totaal nuwe omstandighede. Mag julle die ‘ou’ bekendheid van die land ook vind.

        Liked by 2 people

Comments are closed.

%d bloggers like this: