Yin Yang… Life

Waypoint 009 National North Al Ain Apr'11133-Barchan-Dunes-Al-Ain

 

Ek is vandag net na “skool” op piekniek saam met Padda en Omar, my  ou Taxi drywer in Al AIn toe ek in 2001 hier aangekom het. Hy is so ‘n amazing mens en het my al so baie geleer in my lewe sonder dat hy eens daaarvan bewus is.

Hy is nou al 27 jaar hier, kom eintlik van Pakistan af. Hy en 2 van sy neefs het jare terug hierheen gekom en besluit hulle moet hier kom werk want hulle wil ‘n beter lewe hê vir hulle families- hy was nog nie eens getrou daai tyd nie, maar die beplanning was daar.

Hy het sy lisensie gehad en begin met ‘n privaat-kar om taxi te wees. Hy maak vriende met al die westerlinge wat op daardie stadium by die groot hospitaal daar werk en hy leer en praat Engels.

Ek begin in Julie 2001 hier in Al Ain werk. Ek maak op die lughawe toe ons wag vir vervoer met Mossie palle- sy van SA af en sal ek later leer die wonderlikste NICU nurse uit. Ons word in die SA kring ingeneem en ons kuier omtrent, dit is die wonderlikste gemeenskap en mense kyk na mekaar. So leer ons ook van Omar en as jy enige iets nodig het, bel jy hom.

Ons ontmoet die man, dra sy traditionele Pakistanie drag en smile- altyd. Ons twee moet tailor toe want die uniforms lyk nie goed nie en ons wil klere maak. Dit is spot goedkoop hier om tailor toe te gaan. En nie lank nie, hier is Omar. Ons is sommer dadelik Bureimi toe, nou toe met grens omdat dit in Oman is en daar shop ons heerlik in die souk. Omar het sommer vinnig vir die man verduidelik ons is saam hom en skielik is die pryse net great. Ons moet iets gaan kry en Omar vat ons, fietse, Omar vat ons. Elaine- ons noem haar Sheika- wil blommetjies hê maar wil nie plant nie, Omar gaan koop en plant. En so gaan dit aan.

Hy ry skoolkinders skool toe en gaan haal en vat hulle na hulle aktiwiteite toe. Hy kry ‘n groter kar en as Omar nie kan nie, want hy ry kinders aan, bel hy een van die baie nefies wat nou al hier is en die word omtrent die leviete voorgelees en Omar bel seker 2 of 3 keer om te hoor of ons ok is. Dis nou maar hoe hy is.

Ons kom terug van SA af, hy kom haal ons op die lughawe in Dubai, ons het mense wat kom kuier, hy maak sy bannertjie en hy bring hulle terug na ons toe. Halfpad tussen Dubbels en Al Ain is daar so klein Pakkistani winkeltjie en daar stop hy vir sy koppie tee (vliegtuie land in Dubbels daai tyd so van 1 uur die oggend af. ), en hy is nog heeldag wakker. Jy noem dit, Omar is die man wat ons bel.

Hy is krieket mal en kyk heerlik by al die SA girls krieket, hulle drink ‘ bier of so en hy sit met sy Pepsi want sy geloof sê jy mag nie drink nie- en hy doen nie, glad nie.  Maar jou dinge, is jou dinge en hy het nie probleem met goete nie. As daar ‘n braai is, is Omar daar, hy is net die wonderlikste mens wat jy aan kan dink. Hy braai saam, hy en sy Pepsi. Hy pas honde op as hy moet, hy help gras sny, hy help tot biltong maak. As ek terug kom  van vakansie af, kry hy ‘n persent, as hy terugkom van huis af kry ek materiaal- vreeslik bright, maar altyd lap. Hy help my trek Dubai toe, ons bly nog altyd vriende en gesels en elke Kersfees kry ek my oproep en ek bel hom op al die geloofsdae hier.

2004

My pa is 24 Januarie 2004 dood. Ek en my partner daai tyd bly in Dubai en Mossie het by ons gekuier en besluit na die nuus om terug Al Ain toe te gaan want ek maak reg om huistoe te vlieg. Omar kom haar haal. Hy vra my seker 4 keer is alles ok en ek sê ja, al wat ek dink is my ma is ‘n parapleeg en alleen op die plaas in die huis so ent van my boetie hulle af. Wat gaan sy doen? Hy en Mossie ry en skielik stop die kar, reverse en hy spring uit. Trane in sy oë en hy hou sy hand so oor sy hart, sy gesig so hartseer en hy sê net heeltyd ” Carien, I so sorry about your Babba, I so sorry. Hy haal uit sy sak ‘n rol note en lyk so skaam. Hy hou dit na my toe en sê “I sorry, I only have 2000 with me, but I take Debbie to Al AIn and I bring more. You take home to Mommy and you give, Mommy will need, she not walking and Babba gone”. Ek kyk hom aan, voel trane in my oë en ‘n knop in my keel dat dit eintlik pyn. Ek het dit in sy hand toegevou en vir hom verduidelik ek is regtig ok. Dit het lank gevat om hom te oortuig en Debbie het hom belowe as ek haar laat weet ek het nodig, sal sy hom help om geld te stuur vir my SA toe. Hy is later daar weg met Debbie, maar steeds baie bewoë. Daai man wat my familie van nêrens af ken nie, wat sommer net so daai geld wil uithaal omdat hy weet my ma (hy het by Mossie van haar storie gehoor) gaan dalk sukkel. Sy compassion was vir my iets ongeloofliks, iets wat ek nooit sal vergeet nie.

Dit was seker een van die grootste lesse in my lewe daai. Dit was een van baie wat ek by hom geleer het, sonder dat hy eens daarvan bewus was. Dat dit wat ek geleer het daardie tyd oor ander mense en lande en gelowe, nie noodwendig waar is nie. Dit was daardie dag wat ek net besef het, as jy goed is, is jy goed, as jy sleg is, is jy sleg, dit maak nie saak waar jy vandaaan kom nie, watter kleur jou vel is nie, wat jou geloof is nie,niks van daai beteken iets nie. Eintlik, het dit my meer as dit geleer, dat daar in almal, maak nie saak wie nie, goed en sleg is en dit is ok want ons is human. Ons hoef nie perfek te wees nie. En hoe wonderlik was daardie dag nie. EK dink dit was een van die dinge in m lewe wat my meer mal gemaak het oor die Yin-Yang, die mooi van dit laat sien het, in alles.

In die oriëntasie groep is daar paar westerse girls en die een se oë lyk groter as die ander. Mens vergeet partykeer hoe jy voel om hier te wees want dit is totaal ander as enige iets wat jy moontlik kan in dink. En so met die gepraat en hulle so paar tips gee ens, noem ek Omar se naam en sê hier is sy nommer en sê ek het dit gegee. Ek bel hom gister en ons rëel vandag eet ons vroeg aandete. So is ons (ek en Padda) in die kar en kry hom by een van die pragtige parke hier. Hy het aandete gekoop, heerlike hoender, rys met cardemon en wortels en roesyne(ja ousus, hou op lag- ek eet om hulle).  Pepsi vir hom, diëet Pepsi vir my (LOL) en water, die rol plastiese piekniek tafeldoek en lepels en sop. Ons drie sit daar op die gras, die weer is heerlik en net daar pak ons uit en die 3 van ons kuier te lekker.

Ons het so gelag oor die ou dae en oor mense wat hier was en weg is, mense wat steeds hier is. Sy kinders (hy het 5) is al yslik groot. Sy vrou is pragtig en bly nog al die jare in Pakistan. Hy gaan huistoe so een keer per jaar, soms 2 jaar  en so ruk later kraam sy. Ons wil hom al die huis belet en hy lag so lekker altyd.  Hy het so mooi lag, die plooitjies by sy oë nou al dieper, maar sy ogies gaan steeds toe en sy lyf skud soos hy lag. Hy dra steeds sy New Zealand baseball pet wat hy van Susan (SA) af gekry het toe sy laas daar was op vakansie. Ons praat en praat. Ons almal sit lekker en lag om te mense se reaksie te sien  omdat die 2 westerlinge  sit met die Pakistani man. Maar nie een van on gee om nie. Hy is ons familie, hy is deel van ons en ons is deel van sy familie. En ons gaan altyd wees.

Ons praat oor sy kinders (15, 13, 12, 9 , 7); ek smile binne my en dink nog sy gesig toe hy my vertel het daai tyd dat sy  vrou swanger is. Die trots in hom, elke keer wat sy is. Sy trots as hy van haar praat, van sy kinders en ek besef net dit is regtig waarvoor hy nog al die jaar werk. Hy praat oor hulle skool prestasie en hy is ‘n trotse pa.

Praat van werk. Omar het nou al ‘n skool bussie en ry steeds skool kinders aan. Hy ken daai kinders en hulle families. Hy word sleutels vir hulle huise gegee as hulle op vakansie gaan en daar is niks waarmee hy nie vertrou word nie. Hy praat al jare van aftree, van huistoe gaan, by sy huis wees en net by sy familie en by sy kinders, om hulle te sien groot word. En nou wil hy regtig volgende jaar gaan.Toe ons  later ry praat ek en Padda so in die kar. Ons praat oor hoe wonderlik dit was om net daar op die gras in die park te sit, geen pretensie, geen valsheid, net opregte omgee en vriendskap.

En skielik wonder ek, wat gaan almal hier doen as hy weg is. Dinge het so verander in die Emirate oor die jare, ek weet dis normaal, meen nie ek hoef daarvan te hou nie. Hy is nog hy, sal altyd hy bly, opreg en eerlik , ‘n mens- mens. Hy is so deel van Al Ain soos die pragtige duine. Hy het dieselfde effek op mens as die duine. Jy kom van Dubbels af en die gejaag en besig en niks hou ooit op nie en jy ry en ry en ry…en dan is hulle daar. Skielik. Daai rooi duine, party met gras op, party net myle en myle se rooi warm sagte sand. En dan voel jy hoe jou borskas so groot word soos jy jou asem so diep intrek en stadig laat jy jou asem uitblaas, amper soos ‘n lang, relaxed sug…Jy is by die huis.

img-20180314-wa0014-1658743836.jpg

img-20180314-wa0015-1871426849.jpg

 

 

 

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

5 thoughts on “Yin Yang… Life”

Comments are closed.

%d bloggers like this: