A walk in the past…

Ek en Padda het so lekker gelag vannaand. Ek kyk op FB na ‘n site oor die goeie ou dae. Ja, party van dit was sad en nie goed wat ek wou sien nie, maar die meeste was net amazing. Ek het so gelag, so baie dinge het opgekom en ons het omtrent ge “onthou jy dit?’ aanmekaar. Wat ‘n lekker stappie was dit nou nie…

21766637_666173896914489_6826755649450545725_n

Tannie Esme Everaad en Johan Cronje op Springbok-radio met “So maak mens”! Hulle kon ek nog handle, maar my ma het geluister en geglo aan “Vroueraad” stasie amper soos in die Bybel. Kyk, as daar op daai program raad gegee is moes jy weet almal in die Steenkamp huis gaan dit doen en klaar. Dis ook daar waar my ma die raad oor sardientjies gekry het- dit het een of ander voordeel gehad, veral as jy dit “crush” beentjies en al. Nou weet een ding- ek glo ‘n sardien is byt. Jy sit dit aan ‘n hoek om ‘n groot vis te vang. Na skool by die huis moes jy dadelik skoolklere uitrek en kom middag ete eet  voor huiswerk. Ons het toebies gekry vir middag ete en iewers in die week het ek geweet wag daai sardien -brood. As mens op Maandag dit gehad het was dit okay want dan kon jy ontspan vir die week, maar as dit hier by Woensdag kom en dit was nog nie op jou bord nie….Glo my, daar is niks- en ek meen niks wat daai smaak doodmaak nie, nie mosterd, nie tamatiesous, nie Mrs Balls- NIKS. En ek haat vandag nog daai goed. Dankie Tannie Esme dat jy nooit daai raad vir haar gegee het nie.

Ek onthou toe ons die eerste keer daai pyp vir hare was gekry het, liewe hemel ek het gedink my ma is grand, mense tog. Sy het so blou stofsuier ding gehad wat jy moes stoot om skoon te maak. Ons het in Rynfield in Benoni gebly en my ma was ‘n haarkapster (sal dit nie sê as julle weet hoe lyk my hare altyd nie). Sy het dit gebruik as sy hare sny en doen.30516187_753676458164232_7385144300662685696_n

Ek onthou al die hare perm met daai einste rollertjie- goedjies, ek gedink sy is so slim om sulke reguit lyne te kan kam en hulle so netjies in rytjies te pak- maar nooit vir haar gesê nie. En ek onthou al die pers- haar tannies, hulle het omtrent gekuier by haar en met die hare doen besigheid.

Die verwarmer was omtrent ‘n storie oor my ma nie juis koud gekry het nie – dankie dat ek dieselfde gene het Emma. Kyk toe ons darem so een kry, dan sit jy sodra sy nie kyk nie gou jou skool klere teen dit tot dit lekker warm is en trek aan en al wat ek hoor “Meidjie, ek ruik hitte, sit jy jou klere oor daai verwarmer? ” Kyk en sweer hoog en laag weet nie waarvan sy praat nie. En ‘n Soda stream…. ek het gedink ons is skatryk.

My oupa Willempie het so mes en vurk gehad en was al waarmee hy ge-eet het, slap pap en 2 eiers vir ontbyt solank as wat ek kan onthou. Sy Alsatian hond se naam was Rex, hy het so blou Isuzu bakkie gery wat back fire as hy in 3e rat sit en was wildtuin mal. Hy het geen wettige pad in die wildtuin geken nie en het net onwettige paaie gery. My oupa was ongelooflik lief vir my boetie- dink hy was vir my ook toe ek ‘n baba was want hy het ure lank met my rondgeloop en my blykbaar aan die slaap gesing op “oooo ryperd”. Maar dink toe ek begin mens word as kind met ‘n ongelooflike wil van my eie het hy my meer verdra. Maar hy was ‘n dierbare, goeie mens.

Ek het so op my pa se voete geleer dans vandat ek kan onthou en hy was mal oor dans sy lewe lank.

My perd Robyn het ek en oom Elbie, my pa se jongste broer en ‘n Clark Gable look-alike, gekoop en net daar van ‘n perdekarretjie afgehak en die karretjie met ‘n trekker gelseep tot waar die eienaar gebly het. Ek was so mal oor haar en sy en Diamant (sy is dood aan perdesiekte toe ek st 7 was, was my terpeute. Sy het alles in my lewe geken )

Ons was elke vakansie wildtuin toe. Het eers Veldskoen drive in toe gegaan, ons was toegelaat om die 2e vertoning ook te sien (dink nie ek het eenkeer nie want het geslaap) en dan ry ons deur. Ek onthou om wakker te word voor die wildtuin hek so om en by 4 uur die oggend want my pa sit die radio aan op Springbok radio, en hy maak die deur oop dat hulle kan hoor en dan dans hy en my ma in die pad. So rukkie later dans sommer baie mense want almal se radios is opdieslefde stasie. Sodra die hek oopmaak was dit net so woerts en ons is in die kar, ry in en die vakansie het begin. Soms het ons by oom Hugo, sy oudste broer wat op Komatiepoort geboer het gaan bly en dan het ons so suikerriet ge-eet dat jou mond die ene velle was. Daai suiker was so gou afgebrand met die rondhol buite want -kinders word gesien en nie gehoor nie. Ek onthou van soms langs die pad stop vir piekniek. Die fles met lekker kondensmelk tee, chicken drumstix, appelkooskonfyt broodjies en gekookte eiers. Partykeer het my ma frikkadelle gemaak. Daar was net nooit sulke lekker goed soos gepakte pienkiek kos nie en almal wat verby ry hoet en groet.

20729376_647657662099446_3036769164263507831_n20664542_647583275440218_1407870553084866366_n

Ek dink dit het my die meeste laat lag. Ek het vreelik baie by my niggie hulle op Ogies gaan kuier. Ons is weg Vrydag middag na my pa van die werk af gekom het en moes ry en sorg vir petrol want die petrol stasies het eers weer Maandag oggend oopgemaak. Dan is ons Ogies toe. Ek was so vuil en was glad nie mal oor bad nie. Hy wou nooit saam nie want net gedink is te erg. Hy was baie ordentlik gewees, is vandag nog en ‘n moerse goeie mens. Maar daai tyd het hy altyd vir my ma gesê hy wil nie gaan nie, maar sal gaan want hy weet ek gaan nie bad nie. Dan kom kyk hy in die aand na my voete (wat meestal so gelyk het ) en sê “sussie, jy weet mamma sê as jy doodgaan met sulke vuil voete gaan jy nie hemel toe nie”. Stel dit so, ek was regtig vir niks bang nie, buiten Liewe Jesus. En oor net een rede- Hy het my ma alles vertel. Ek sweer ek dink nog aan iets dan kyk sy my so en sê ‘ek weet jy dink daaraan en die antwoord is nee en dan is dit sowaar as vet waaraan ek gedink het. So die feit dat ek Hom nie kon sien nie, maar Hy hierdie manier gehad het om net met my ma te praat, het my effens uitgefreak. Ek dink ook my ma het besef dit is dalk al manier om te probeer om my in toom te hou.

Daai kaalvoet in die beesmis… Die koudste koud in daai Ogies winter, die ryp lê spierwit buite dan is ons kaalvoet uit. Jou tone pyn dit voel of jy op oop bene loop, maar kaalvoet die is jy. Reguit kraal toe. Daai arme koei het nog nie behoorlik die grand finale gehad nie dan hol jy vir daai hoop mis. Oh my soul… as daai hitte so deur jou voete sprei… (Nie seker ek wil vandag dit meer doen nie- maar die kaalvoet ding het gebly).

14102325_486825638182650_8189912102109999162_n

Nou ja, dit het my so laat smile. Tot ek ‘n student was, het ons so foon gehad op Kendal. Ons nommer was 604, dit was 4 kort luitjies. Almal op dieselfde lyn kon mekeer bel sonder om deur die sentrale te gaan. Gansie, dis wat my pa haar genoem het, het altyd ingeluister dan hoor mens hoe raas haar ganse op die werf. Dan sê my pa “Gansie, luister jy weer af?” Dan wip die tannie haar en skree “Koot Steenkamp, ek luister glad nie” , besef sy het haarself weg gegee en sit neer. Jy draai daai slinger tot die tannie of oom op die sentrale antwoord en so het jy die wereld vol gebel. Die sentrale het almal geken en geweet wie om te bel vir alles. Oom Jan Hanekom was die dokter op die dorp en as jy hom eers koes bel was dit ‘n storie want dan weet mense dit is ernstige dinge die. Maar almal ken almal en as jy nie sekr is hoe jy voel nie dan gaan jy dorp toe want iemand sal vir jou sê hoe hulle gehoor het jy voel.

Ek is so dankbaar dat ek so groot geword het, sal dit vir niks in my lewe verruil nie. Want ek besef hoeveel tyd en liefde en aandag ons as kinders gekry het. Alles was as familie gedoen. My ma was so kwaai soos die hel, maar eerliker kon jy nie kry nie. My pa was ‘n diplomatiese, ongelooflike slim en sagte mens en my hero, baie langer gevat voor ek en my ma regtig mekaar gevind het. My boetie was in die koshuis op hoërskool en toe gaan swat en ons mekaar geken, maar ons het mekaar regtig weer gevind. Ek is so lief vir hom en hy lyk so baie na my pa dat ek soms skrik as ek hom sien. En my ousus.. ek is so bly dat Liewe Jesus geweet het dit is sy maat, want sy amazing en weet julle almal weet dit. Maar niemand kon ‘n beter match gemaak het nie.

 

En al die laat my net meer en meer dink Gariep……

Dit was ‘n lekker stap….

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

14 thoughts on “A walk in the past…”

  1. Dit is nou lekker en mooi onthou, terwyl ek saam jou al die “goeters” op die foto’s ook onthou. Lekker dae, ou dae, kleintyd en jong dae…
    Ek het wraggies nou lekker gelees hier by jou.

    Liked by 2 people

Comments are closed.

%d bloggers like this: