Vir Patrys

18a26f3c-524f-408a-aaf2-1d9e0e290b2d

Ek het ‘n vriendin wat ek ken vandat ons saam in standard 6 was, eerste dag in die koshuis, die dag voor ons skool begin. Ek het skool gehaat, met ‘n passie. Geglo dit was ‘n totale mors van tyd en kon nie glo ek moet dit doen nie, daar was baie belangriker dinge op die plaas om te doen.

 

En toe ontmoet ek vir Patrys, Sy was saam met 3 ander meisies in ‘n kamer, ek saam met 2 ander. Ons het dadelik geclick en oor en weer gekuier. Sy was ‘n stunning girl en wêreld wys en die manne was mal oor haar. Sy het gevloek soos ‘n matroos, het almal naby aan haar vurig verdedig en het die mooiste hart gehad wat jy aan kan dink.  Vroeg in standard 6 praat ons eendag so oor kêrels en sy sê as ek eendag ‘n dogtertjie het, noem ek haar Zenobia. Sy dit iewers raak gelees in een of ander boek. Ons is dik palle, sy kronies in die moeilikheid oor haar kort rok en lang naels en haar grimering, ek lag net, want meer as ‘n plaas japie met my kan jy nie kry nie. Die seuns vrek oor haar, van matriek tot standard 6.

Sy is die een wat my help toe ek op skool met “Pangelang” (was sy bynaam) kys en ons gaan fliek in die skoolsaal. Ek kom uit met jeans, rugby trui en tekkies- sy stop my net daar en sê vandag trek jy ordentlik aan. Nou ja, so is ek toe nou omtrent uitgevat en is fliek toe. Sy help my om te crook met die landloop- ek meen regtig, wie de hel hardloop nou so ver en dit as jy nie gejaag word nie. Sy verdedig my teen ons Afrikaanse onderwyseres, sy brei my babygrow effek wat ons moes doen vir huishoedkunde en sy is saam toe ons gevang word melkpoeier steel toe dit tyd is om te leer kook.

Paar jaar later swot ek en sy bly in Sunnyside, in so 1 slaapkamer woonstel. Ek is Isreal toe vir 6 maande op ‘n kibbutz na ek geswot het, en toe ek terugkom is sy swanger. Sy is so bly en opgewonde en sy lyk net so pragtig soos altyd. Het vrede met die pa en doen haar ding. Praat van ‘n suvivor. Dis nie hoe lank daarna nie en Zenobia is gebore. So paar jaar later het sy nog ‘n dogter, porsche, en net so pragtig. Sy is nie getroud nie, wil nie trou nie en leef haar lewe uit. Sy leer haar kinders, sy kyk na haar ma en sy werk. Sy kla nooit, sy lag altyd en al sien ons mekaar min, is ons ongelooflik naby aan mekaar.

Die 3e Febbruarie lui my foon en dit is haar nommer. My hart spring in my keel en ek dink dadelik hier is nou moeilikheid. Ek hoor net gehuil en foon is dood. Ek bel dadelik terug en dit is Porsche. Patrys was in ‘n verskriklike kar ongeluk en is ongelooflik sleg beseer. Enkel, beide onderbene, bo bene, pelvis en sternum is gebreek. Sy is met tjopper Milpark toe gevlieg oor multi trauma en sy dokter sê sy is baie sleg beseer en onstabiel.

My wêreld stop vir ‘n paar minute. Ek voel eintlik naar. Voel trane in my oë en ek wil regtig net skreeu. Ek kan nie dink nie, weet regtig nie wat om te doen nie. En ek dink net “asseblief Liewe Jesus, moenie dat dit die laaste keer wees wat ek haar gesien het nie, nie nou al nie”.

Ek stap uit en gaan staan buite en ek bid so hard.

Vandag gaan dit heelwat beter met haar. Sy is al vir herhaalde operasies in , beserings is erg en na vandag se werk aan haar linker been, begin hulle haar seker van môre af speen van die ventilator af. Hulle maak reg dat sy dalk kan saal toe gaan teen einde van die week. Daai twee dogters het groepie begin en hou ons almal op datum van wat gebeur. Hulle is pragtig. Jy is so ‘n amazing mens en ek is so blessed om jou in my lewe te hê en deel te wees van joune.

Dankie is al wat ek kan sê..

Trix

 

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

21 thoughts on “Vir Patrys”

  1. Wat ‘n kosbare vriendskap. Virgo, ek is regtig jammer oor die verskriklike ongeluk, oor die baie beserings wat sy opgedoen het. Ek is dankbaar dat sy op die herstelpad is.
    Liewe Vader, ek bid nou vir Patrys. Ek bid dat U haar styf sal vashou dat U haar beserings sal herstel dat U haar wonderbaarlik sal gesond maak en ek bid vir Virgo en ook haar kinders en ander familie, sal U ook vir hulle versterk asseblief en die moed, geduld en krag gee om haar by te staan. Amen.

    Liked by 3 people

  2. Ek dink aan jou en jou vriendin. Mag sy gou ten volle herstel. Dit laat mens net weereens besef hoe broos en kort die lewe is en dat mens nie moet uitstel om mekaar te sien of met mekaar te praat nie.

    Liked by 2 people

Comments are closed.

%d bloggers like this: