If I could turn back time…

Mina is al vroeg op en gou Spinneys se kant toe om te kyk of sy nie vir haar en Albert so lekker dingetjie kan kry om te eet nie. Dit is so lekker om daar te wees. Hulle het sommer baie goete van Suid Afrika en partykeer as mens so vir’n rukkie sit kan jy daai mense hoor as hulle uitklim en hulle praat so lekker. Sy kan altyd so lag, die kinders is omtrent altyd kaalvoet. Party dae maak dit haar net hartseer en sy wens so dat sy en Albert net kan terug gaan. Daardie dae vlieg sy verder en hou haar net besig want sy wil nie hê Albert moet weet hoe erg die verlange soms raak vir haar nie. Al die voëls wat sy so mis. Die klomp Mossies wat so skuins onder hulle gebly het, ‘n parmantige vaal ou vroutjie met ‘n stem soos ‘n sweep. Haar man Karel was vir haar dood bang. Albert kon dit nooit verstaan nie, hoe daai tingerigge ou lyfie al wat ander Mossie is so kan hiet en gebiet nie.

Die klomp meeue wat so ent van die strand af gebly het, verkriklike klomp “party animals” soos haar ma sou se. En raserig, van vroeg oogend tot saans. Maar dierbaar en wil net kos en vrede he. Eintlik salig as mens daaraan dink, niks anders was vir hulle belangriker nie.

Die Kwiksterte was altyd so presies en opgetof, geen veer uit sy plek uit nie. Vandat hulle na Bishops Court se kant getrek het, het hulle sommer baie verander. Dit was asof die klomp voëls van Seepunt en Milnerton se kant vir hulle iets was om oor skaam te wees. Mina onthou nog hoe hartseer die ander klomp voëls in die kontrei was. Die Mossies opgeruk, die Bottergatte sommer misluk, van die duiwe het besluit hulle trek saam en dis mos hoe dit werk. Mense dink altyd hulle kan hulle verlede wegvlieg, maar dit haal vir jou in, een of ander tyd. Die meeue het net gelag en gese “dis hulle keuse, laat hulle gaan. Op die einde het dit niks met ons ander voëls te doen nie. Elkeen het sy eie pad wat hy moet uitvlieg”. Mina het gedink dit was ‘n baie slim en ware stelling. Albert was baie ontsteld. Sy goeie vriend Pieter se vrou het gesê of hulle trek of hy trek en Pieter moes saam. Sy het hom en Albert eendag in die middestad gesien kuier en het amper voëlgriep opgedoen van woede. Hy en Pieter het mekaar nooit weer gesien nie. Albert het na Mina gekyk een aand en net gesê “Mina, as jy ooit so maak soos daai Lorna voel, dan se ek jou nou, dan bly ek en jy kan trek waarheen jy wil. So lief soos ek jou het, geen voël het die reg om so met sy maat te maak nie”. En hy het nooit weer daarna oor dit gepraat nie. Hy het eintlik nooit weer so goeie vriend gehad nie, wel, buiten nou vir Frik en Mustafa. Sy was nogal verbaas oor hoe goed hulle oor die weg kom. Wys jou net, as mens net jou brein kan afskakel oor al die goete wat so in dit ingedruk word, dan is daar soveel dinge mootnlik in die lewe.

Sy sien die blink rooi 4×4 Pajero stop en toe die deure oopgaan en die kaalvoete is eerste uit begin sy sommer so diep uit haar magie lag. Hulle kan net Suid Afrikaners wees. Die twee seuns is besig, regtig besig, die arme ma het haar hande vol met hulle en daar is ook ‘n nuwe baba. Sy roep die seuns nader en trek haar mond so klein en in suiwer Afrikaans lees sy hulle die lefiete voor”en as ek een keer moet sê sit dit terug of staan stil of bly stil, is dit die laaste keer dat julle hierdie hele vakaknsie saam met my kom. Verstaan ons mekaar?” Die twee se koppe knik en hulle sien ma het nie lus vir drama nie. Stil stil loop hulle agter haar en die baba wat sy dra aan, so stamp-stamp aan mekaar. Mina kyk hulle aan tot hulle binne die automatiese deure verdwyn.

Seker 20 minute later kom hulle uit en elkeen met ‘n groot rooi boksie eetgoed, sy kan die aartappels ruik. Dit ruik heerlik. En so terwyl hulle so stamp-stamp loop, val die een pakkie uit die een se hand en jy sien net aartappel skyfies trek. Die ander een wil net begin toe kyk die ma om en hulle is doodstil. “ek het getrip ma, en toe val dit, ek belowe”. Sy het net haar wenkbroue gelig “dan kan jy en jou boetie syne deel”. Hulle is in die Pajero, baba is vasgemaak en daar gaan hulle. Mina is soos ‘n pyl uit ‘n boog en tel 4 van daardie sagte, lang skyfies op. Sy sit eers neer, eet so twee van hulle en tel dan weer die 4, nee 5 op en besluit om nes toe te vlieg. Albert gaan so bly wees, hy is gek na die skyfies.

Toe sy so naby die groot boom kom sien sy Albert, Frik en Mustafa sit. Hulle praat nie en sy voel hoe haar hartjie sommer soos ‘n perd in haar bors klop. Iets is verkeerd. Sy knik haar koppie en vlieg in die nes in. Sit die skyfies neer en kom uit.

Hulle stamp -stamp so aanmekaar en sy kan sien nie een van hulle wil regtig iets sê nie. “Nou toe, julle stamp mekaar nog van die tak af as julle so aangaan. Wat is dit?”

Mustafa kyk af, Frik kyk heeltemal ander kant, Albert skuif nader. “Mina, ek het slegte nuus om jou te vertel” Mina voel hoe haar krop sommer styf trek en sy weet. “Waar is Cyril en Madge?” Albert kyk af, die ander twee ook. Sy voel hoe ‘n groot trane in haar oë begin. “Nee…” Albert skuif nog nader, sy vlerk so half oor haar “Ek is jammer, maar hulle het dit nie gemaak nie. Die valke het hulle grky, ‘n paar van die kraaie is ook daarmee heen, maar hulle albei is weg”. ‘n Groot snik val sommer so uit haar bors en bek. Mustafa vee sy snawel af teen die takke, lyk soos ‘n swaard wat hy skerp maak. Frik voel sommer bewoë. Hy kan glad nie hanteer dat vrouens huil nie, hy weet nooit wat om te doen nie. Laat hom net dink aan sy ma as sy pa so sleg was met haar en haar so rond gestamp het. Hy het so hard probeer en toe hy wel groot genoeg was om impak te maak het sy pa hom nes uitgeskop. Hy kan onthou daai val grond toe, hy het sy paar dae as voël so by sy oë gesien verby flits en toe hoor hy net sy ma wat skreeu “jou vlerke, maak oop jou vlerke en kyk waarheen jy wil gaan”. Hy het dit gedoen, hy het sy kop gelig en sowaar gevoel hoe sy lyf in die wind begin rigting verander en sweef. As hy nie so hartseer en kwaad was nie dink hy dat hy seker nounog sou skreeu van blydskap. Maar hy het saggies geland. Die tuin waarin hy was het groot bome en bosse gehad en hy het vinning onder ‘n bos ingespring. Sy lyf het gebewe en hy was so bang.

Die volgende oomblik het die kleine katjie sy kop in die bos gedruk en na hom gekyk. Frik het geweet, dis ek of jy. Hy het vorentoe gespring en met al sy krag die katjie op sy snoet gepik. Sy het haar koppie geskud en dadelik weg gehardloop. Hy het daar gesit en gewag vir sy ma en geweet sy kan hom nooit kom haal nie. Hy was gelukkig , dit was somer anders het hy sekerlik gevries daardie aand. Hy het vir hom mooi tussen die groen blare so sagte lê plek gemaak so ent van die grond af en besef hy moet rus, want more, sodra die son opkom, moet hy wat Frik is leer vlieg. En hy het.

Mina skud haar kop om die trane weg te kry. “Is daar iets van hulle oor?” Al drie skud hulle koppe. Sy kyk terug na die leë nes langs hulle. Gelukkig is die twee kuiekens al groot en het die nes verlaat. Sy spring na die nes toe en trek haar krop vol van hulle reuk. Hoe wreed het mense tog geword. Valke was nog altyd hulle natuurlike “vyand”, maar om ‘n sport daarvan te maak. Om dit wat kleiner is as jy so te behandel net omdat jy kan.

Die kraai bende bo, nie alle kraaie is so nie. Kyk vir Mustafa. Ja , hy is wel ‘n ander soort kraai, maar steeds ‘n roofvoël, soos Frik ook maar. Maar dit is asof niemand mekaar meer die kans gee om net te wees nie. Sy weet hoe kwaad van die duiwe was wat eers hier naby hulle gebly het toe hulle begin vriende raak. Hulle het gedink sy gee hulle op om te bly leef. Dat sy nou aan die “vyand” se kant is. Sy skud haar kop, hoekom moet voëls vyande wees. De lug is tog so groot, meer as genoeg plek vir almal. Sy het soveel keer probeer verduidelik, hoekom kan hulle nie almal net in vrede leef nie. Maar daar was ‘n paar wat se kuikens gevang is deur die kraaie, twee paartjies het eiers verloor oor die Myna’s. Dit het so erg geraak dat Mina hulle besluit het om hierdie nes te kom bou, ver van die ander af. Voëls kan vriende wees met wie hulle wil. Sy het steeds gaan kuier in die groot boom, haar vriendinne gesien en was altyd bewus van hoe hulle na haar kyk. Die klomp duiwe van Engeland wou niks weet nie, behalwe Cyril een Madge en die Christine en Paul. Sy wonder of hulle weet.

“Dankie dat julle my gese het, ek weet was seker moeilik vir julle. Maar dankie”. Ek het aartappelskyfies as julle wil hê. ” Frik wil nog sê ja toe gee Mustafa hom net so kyk. “Nee dit is reg Dingetjie, eet julle maar, ons het nog so paar draaie om te vlieg. ” Albert kap sy vlerk teen Mustafa en teen Frik en die twee vertrek. ” Mina, ek is regtig jammer. ” Sy spring nader aan hom “Albert, dankie, maar daar is niks wat ons kon doen nie. Hulle is gewaarsku en ek weet dit is so sinneloos. Niemand van ons wil so leef nie. So bang dat jy nie meer normale goed kan doen nie. Maar dit is nou hoe dit is. Ons moet na mekaar kyk en glo dit gaan nog uitwerk. Ons moet dit wat ons begeer in ons gedagtes sien , nie hierdie sinnelose geweld nie”. Hy druk styf teen haar en wonder weer wat hy in sy lewe reg gedoen het om haar te verdien. 💜

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

3 thoughts on “If I could turn back time…”

  1. Virgo, ek glimlag breed, hoor. Voëls…? Klink vir my alte veel na ń sekere volk se leefwyse hierdie. Of dalk is elke land se mense op ń manier dieselfde. Tog, as ek mag raai, …

    Liked by 1 person

Comments are closed.