My journey met kuns..

Ons gespot in ‘n groep oor iets wat ek “quote” van ‘n Afrikaanse song wat baie gewild is bly by my al die hele dag. Kyk, is dit suggestief, natuurlik want dit is wat verkoop vandag . Het dit ‘n ongelooflike lekker en wakker “beat” – natuurlik het dit. Ek kan heeltemal verstaan dat mense dit sing en dat baie nie verstaan of regtig luister na die woorde nie. Ek meen, hoeveel van ons kom nou jare agter na ons sekere liedjies sing en mens nou die lirieke kan kry op youtube en plekke dat ons sing al jare die verkeerde woorde. Ek dink oor hoe moeilik dit moet wees om dit seker vir jou kind te verduidelik, dit sonder om hom/haar sleg te laat voel want hulle het dalk geen benul waarvan ons as volwassense praat nie. Hoe mooi dit deur van die ma’s hier hanteer is. En dit weer kry my aan die dink oor kuns, alle vorms van kuns.

Dit laat my vra vandag: Waar trek jy die streep met kuns? Wie maak daai besluit? Wanneer besluit jy? Wie is ek of jy om kuns in te perk? Omdat dit teen iets is wat ons glo, wat ons voel- wie sê wat jy voel of dink is reg? Wie het daai mag?

Juis dit maak kuns so ‘n “probleem” dink ek vir die meeste van ons. Waar trek jy die streep en besluit dit is aanvaarbaar of nie, dit maak nie saak watter vorm van kuns jy van praat nie. Op watter stadium sê jy vir ‘n kind met briljante teken- talent dit is eintlik nie vanpas om nou naak portrette te teken op 9 nie, later kan jy, maar nou is jy nog te jonk. Wat het Picasso se ma vir hom gesê?

Ek onthou as ‘n kind het my ma amper stuipe gekry toe sy hoor ek luister na Rod Steward, Suzie Quatro, Boston ens en sing uit vollebors saam , en ek het die danse gedoen en heupe geswaai dat dit naarheid was. Arme ou Katie, ons huishulp moes dae lank konserte van my deursit sodat ek kan optree met my haarborsel en my tennis raket. Het ek ook gedink aan wat ek sing, hel nee, ek was te besig om ‘n ‘superstar” te word. Was hulle musiek suggestief, natuurlik.

Onthou ek is ‘n ’66 kind. Toe daai musiek in die 70’s speel was dit so erg gewees. Ons het laat aand op Vrydag op Springbok radio gesit en wag om musiek “te tape” en dit was so moeilik om te probeer om net die musiek in te kry en nie die omroeper wat alewig begin praat het voor die liedjie ophou nie. En dan is daar so lank na dit geluister , geoefen en saam gesing. Wie van ons het al regtig gesit en luister na wat gesing is? Het ons regtig verstaan wat ons gesing het? Dinge was so verban en verbied deur die kerk en regering en daar is al soveel simboliek aan onskuldige dinge gegee mens het nie geweet watter kant toe nie, want iewers is jy nou betrokke met die duiwel en is daar fout en mens kan sien hoe is jy groot gemaak is en die hekke van die hel staan vir jou oop en wag, Afrikaanse kinders doen nie dit nie. Toe daai hele idee van plate agteruit speel – ek het in my hele 54 jaar nog nooit iemand geken wat ‘n plaat agteruitspeel nie, so ek weet steeds nie wat dit sê nie.

Ek is al van klein tyd af gesien as ‘n baie besige en wilde kind- seker die dat ek nooit kinders wou hê nie. Ek is in elk geval heeltemal te selfsugtig om ‘n ouer te wees soos ek verstaan een moet “wees”

My ma hulle het groot geword in die Elvis era en vir my ouma hulle was dit so goed soos die duiwel homself. Hy is letterlik aanbid deur mense, genoem “The King”. Het dit enige iets te doen gehad met sy musiek? Met die liedjies? Met sy talent? Was dit sleg oor waarheen sy lewe gegaan het of hoe hy geleef het? Wat het dit met sy briljante en unieke vorm van kuns – sy stem te doen gehad? En ons praat nie van ‘n era soos nou dat jy klink soos skaap wat keel af gesny word as jy “live sing nie”, maar jou CD klink soos ‘n droom. Die man kon regtig sing, voor mense en in ‘n studio. En tog, oor hoe hy sy lewe geleef het, wat hy gedoen het, het hom vir my ouma hulle se generasie letterlik die duiwel gemaak. En sy stem… dit was bysake. Want as jy luister gaan jy net so uitdraai, jy gaan net so leef. Waar het ons aan hierdie snert gekom?

Dit is nie maklike vrae nie want ons voel dit meng in met ons waardes en hoe ons na ons kinders kyk en hulle groot maak. Dit bring soveel ander vrae na vore wat maklik is om te vra, baie moeilik om te antwoord en nog moeiliker as jy self kinders het. Hierdie “kuns- keuse “loop oor in soveel ander dinge wat jou- self ‘n unieke en individuele mens maak.

As jy dan nou die “regte keuse maak oor kuns, geloof, norms, waardes , opvoeding en jy raak verlief op ‘n anders kleurige mens met dieselfde waardes, norms, geloof, opvoeding, is dit nog “reg”? As jy al die “regte keuses maak” en jy vind uit jy is gay en die seun/meisie met wie jy betrokke is is ook een met al die “regte keuses en besluite”, maak dit jou nog “reg”?

Ek het al baie gewonder oor hoekom ouers altyd sal vra wanneer ‘n kind, volgens hulle, ‘n radikale besluit maak, “wat het ons dan fout gedoen? Ons het jou so mooi en reg groot gemaak? Hoekom nou? Was ons nie genoeg daar vir jou nie? Hoekom dit?” Waar en hoe het ons op die idee gekom dat dit enige iets te doen het met hoe jy groot gemaak is? Dat dit enige iets te doen het met jou as ‘n ouer? Dat jy nou skielik nie respekteer word nie.

Jy is ‘n individu- jy gaan nog baie sulke dinge in jou lewe doen en ondervind. Hoe is jou besluite as jong volwassene dan jou ouers se skuld? Op watter stadium word jou keuses dan jou besluit? Dan kan jy mos maar jou lewe deur gaan en sê “nee is eintlik my ma se skuld want sy het my nooit dit geleer nie en nou het ek hierdie moeilikheid”. Is jou werk as ouer dan nie om ‘n individu wat aan jou GELEEN is die beste kans te gee om sy/haar eie person te wees nie. Dis mos nie om ‘n blueprint van jou lewe te wees nie. Die feit dat jy weet as hulle sekere besluite maak hulle moeilikheid gaan hê is wysheid- en wysheid is “ek het self geleer deur hierdie fout te maak”. Ek sê nie gooi die hekke oop en laat hulle self uitvind nie, jy praat en leer en help en doen jou deel om daardie waardes in jou kind se binneste te kry, jy is altyd daar, maar die feit dat hulle ‘n ander keuse maak eendag is nie jou skuld nie. Ons moet begin besef dat mense het hulle eie journey en hulle eie “soul contracts” wat hulle moet vervul en jy kan hulle net al die “tools” tot jou beskikking gee om mee te cope. Want jy self as mens het net die tools wat tot jou beskikking is en jy doen daarmee die beste wat jy kan.

Maar ek is seker van die onderwerp van kuns af. Dit is vir my ‘n baie moeilike ding om te besluit, want maak nie saak hoe hard ek probeer nie, op een of ander manier perk ek dit ook in. Iewers in my voel ek sekere goed is nie reg nie, dit is nie kuns nie- dis dan wanneer ek sit en besef dat vryheid van spraak, kuns en meeste van alles individualiteit seker baie moeilike dinge is om te aanvaar. Dalk is die belangrikste ding om op te hou dink aan reg of verkeerd, dalk is dit net anders. Want die grootste genade is dat jy nie iemand se saak met jou Verlosser kan regmaak nie. Dit is en bly ons elkeen se gesprek met Hom. Of wie ookal jy in glo.

Makliker dalk is my ouma se raad: oor mooi en lekker, kan niemand stry nie.

Author: VirgoC

...ek is 'n Generation X kind, so sê die media . Ek is mal oor die comforts van tegnologie (wat ek wil verstaan), maar ek smag na dit waarmee ek groot geword het. Ek is vandag nog netso confused soos 20 jaar terug, verskil is nou geniet ek my confusion. Die is hoe ek die lewe sien in stories, of sommer net "plain" en soos die kraai vlieg.

5 thoughts on “My journey met kuns..”

  1. Ek sukkel op die oomblik met so baie ‘issues’ aangaande rasse en mense se dubbele waardes, Virgo. Ek hou gewoonlik maar net my mond, want ongelukkig is my eie naaste mense ook soms my grootste probleem.
    Daar is sekere sieninge wat net te diep in ons mensdom gesetel is dat dit onmoontlik is om te skuif.
    Ek hoor jou oor die kunste. Ek weer sien nie kleur raak nie, so ek voel deesdae of ek nêrens inpas nie. Ek krimp letterlik ineen as iemand veralgemeen en uitsprake maak oor kulture. Hoe gaan ons eendag voor ons Vader kan staan en verduidelik hoekom ons nie raakgelees het dat Hy ALMAL liefhet nie. Hoe gaan ons onsself verontskuldig. Ek sit nie vraagtekens agter my sinne nie, want daar is geen antwoorde nie.

    Liked by 1 person

    1. Ek hoor jou en verstaan heeltemal. Ek self voel verlore oor so baie dinge, soos jy sê voel of jy nie inpas nie. Dalk is dit juis dit wat die probleem is, dalk moet ons nie. Ek weet nie, net bly jy is daar en in my lewe💜💜

      Liked by 1 person

  2. Daai grense….wanneer skuif mens dit. Mag mens dit skuif as dit bedreig? Ek weet net dat die atmosfeer net so deurmekaar voel soos ons. Dit kan nie besluit of dit winter of somer wil wees nie. Voel of ek soos ou Rip van Winkel nou my kop wil neerlê….

    Liked by 1 person

Comments are closed.